Kan die Wes-Kaap onafhanklik word?  

LEGAL OPINION (Afrikaans): Dr Fatima Saayman responds to an article by retired Professor Pieter Labuschagne where he claimed Cape Independence simply wasn't possible

(We will provide an English translation as soon as possible. The original article, and therefore the response, were both written in Afrikaans)

Dr. Fatima Saayman, LLB, LLM,LLD is `n regsbeleidadviseur. Sy spesialiseer in sesessie en internasionale erkenning. Sy skryf hierdie artikel onder ’n skuilnaam as gevolg van die sensitiwiteit van haar werk, en dit verteenwoordig haar persoonlike opinie.

In `n artikel in Netwerk24 van 10 Desember 2020 skryf Pieter Labuschagne dat ’n onafhanklike Wes-Kaap “eenvoudig onmoontlik” is. Miskien moet ons hom liewer Siener Labuschagne noem, want met so ’n vooruitsiende blik van wat onmoontlik is, sou dit immers gepas wees.

Labuschagne verval in ’n valkuil van kwasi-filosofiese teorieë oor konsepte soos magspolitiek, realpolitiek en dies meer. Sy afgewaterde poging om sy standpunt in die artikel te fundeer, laat veel te wense oor.

Niemand wat selfbeskikking in Suid-Afrika nastreef is blind vir die feit dat die ANC die wettig verkoseregerende party van die land is nie. Niemand beweer ook dat die ANC op en afspring van opgewondenheid om grondgebied af te staan nie.

Alhoewel, soos Labuschagne dit tereg stel, ’n referendum oor selfbeskikking in die Wes-Kaap nie bindend is nie, vorm dit wel die grondslag vir onderhandelinge met die regering met die oog op groter outonomie vir die provinsie. Die mandaat moet dus inderdaad van die Wes-Kaapse bevolking verkry word, net soos die vraag oor Skotse onafhanklikheid aan die Skotte gestel is, en nie aan die hele bevolking van die Verenigde Koninkryk waarvan Skotland deel is nie.

Diegene wat selfbeskikking nastreef is ook nie so naïef om te dink dat die ANC die Wes-Kaap op ’n silwerskinkbord sal weggee nie, maar daar is meer as een vreedsame pad na selfbeskikking. Om ’n mandaat van die bevolking uit die territorium te kry, is definitief die begin; niemand beweer dat dit die einddoel is nie. Daarna kan onderhandelinge met die regering volg en, hoe beter ’n saak op basis van nasionale en internasionale reg uitgemaak word, hoe groter is die kans op sukses.

Labuschagne maak nie eers melding van Artikel 235 in sy oppervlakkige analise van die Grondwet van 1996 nie. Dit is die mees relevante artikel wat betref selfbeskikking in Suid-Afrika. Artikel 235 laat duidelik die deur oop vir territoriale selfbeskikking, soos wat die regters van die Konstitusionele Hof dit ook gestel het met die sertifisering van die betrokke artikel. SA se Grondwet verbied nie sesessie nie, en selfs al sou dit, sal so-iets in druis teen die internasionale regsposisie.

In ’n afgewaterde en uiters beknopte verwysing na die rol van internasionale reg, vergeet Labuschagne om te vermeld dat daar geen verbod op afskeiding bestaan in internasionale reg nie. Boonop is dit nie net internasionale reg wat gevolg moet word in enige selfbeskikkingstrewe nie, maar moet daar ook rekening gehou word met internasionale politiek – waarmee bedoel word die rol van ander onafhanklike state, en nie die VN as sulks nie. Voorts is die verwysing na internasionale reg op baie meer gegrond as bloot Resolusie 1514. Ek sou ’n lang lys van relevante ooreenkomste, resolusies, regsake, ensovoorts hier kon opnoem, maar vermoed dit sal die meeste mense verveel.

Labuschagne vermeld dat die VN nie internasionale reg kan afdwing nie - hierdie stelling getuig van sy onbegrip oor wat internasionale reg is, en wat die VN se rol daarin is. Die VN is nie ’n uitvoerende mag op internasionale vlak wat erkenning kan verleen of weerhou op ’n afdwingbare wyse nie. Vir ’n staat om werklik onafhanklik te wees in terme van internasionale reg (en nie bloot feitelik soos die geval is met Somaliland nie), moet dit deur ander state as onafhanklik erken word - nie deur die VN nie. Die erkenning van onafhanklikheid kan wel uiteindelik lei tot lidmaatskap van die VN. Erkenning van `n nuwe staat se onafhanklikheid deur die VN kan gesien word as die kulminasie van die proses, maar dit is nie `n vereiste vir soewereiniteit nie.

Labuschagne hou ook nie rekening met meer resente verwikkelinge in die internasionale gemeenskap nie. Hy verwys na dekades gelede se sake soos Oos-Timor en Wes-Sahara, maar verswyg die mees onlangse gebeure soos die Internasionale Geregshof in Den Haag se Kosovo-opinie-uitspraak van 2010, en Suid-Soedan se onafhanklikheid in 2012.

In die geval van Kosovo het die Serwiese eenheidstaat ook geweier om Kosovo se onafhanklikheid te steun nadat vreedsame onderhandelinge tussen die Kosovare en die Serwiërs op ’n dooiepunt uitgeloop het, en nadat alle interne remedies uitgeput is. Serwië het die saak na die VN verwys wat nie oor sulke sake kan besluit nie, en wat dit toe deurverwys het na die Internasionale Geregshof in Den Haag vir ’n opinie-uitspraak. Die meerderheid regters van die Hof het in 2010 bevind dat daar geen beletsel in internasionale reg is wat die Kosovare se eensydige onafhanklikheidsverklaring van 2008 ongeldig maak nie, en bygevoeg dat burgers van ’n staat wat grondgebied wil afskei met die oog op onafhanklikheid geensins die territoriale integriteit van die eenheidstaat aantas nie. Vandag erken tientalle state van die wêreld Kosovo se onafhanklikheid en geniet die gebied lankal soewereiniteit.

Labuschagne vermeld nêrens in sy artikel die moontlikhede wat sogenaamde remediërende afskeiding (“remedialsecession”) bied nie. State is meer geneig om onafhanklikheid van `n nuwe staat te erken as die eis gebaseer is op remediërende afskeiding. Lees gerus meerhier oor die onderwerp https://southafricatoday.net/.../the-case-for-remedial.../

Wes-Kapenaars wat groter outonomie vir die provinsie nastreef, koester geensins valse verwagtinge nie, solank as wat hulle die proses aanpak binne die vereistes van SA se Grondwet en veral binne die raamwerk van internasionale reg.

Of die artikel van Labuschagne doelbewus misleidend is, of bloot net op totale onkunde gebaseer is, sal net die tyd ons kan leer.